
Die onlangse begrafnis van Amelia, private koshuis naby die Vrystaatse Universiteit se gees het nogal groot belangstelling gewek by oud-Reitzmanne. Gedagtes en herinneringe van die begrafnis van Hobhuis se gees in 1970 het gou per e-pos versprei! Tom Ferreira, saam met my eerstejaar in 1970, het onthou hoe ‘n spierwit kissie in ‘n swart Mercedes, begelei deur Steph Ferreira op sy swart motorfiets van Reitz af vertrek het. Bestemming: die oop stuk grond oorkant Hobhuis waar die vlotte destyds gebou is. Vandag die Administrasie-gebou.
Callie de Jager gewapen met ‘n Hoog Hollandse boek vir die begrafnisdiens. Eerstejaars geklee in wit hemde gereed om ‘n graf te gaan grawe en as roubeklaers stap agter die “lykswa” as deel van die prosessie.
Aangekom by die voorafbepaalde graf staan Hobhuis se dames nuuskierig nader, om met skok te vind hulle “Gees” word begrawe. Die spierwit kissie, gebou deur Ters Smit en Arno Church, Argitektuurstudente, sak in die vlak graf af.
Die prime van Hobhuis is woedend terwyl die REITZMANNE soos met ‘n werklike begrafnis die dames se vriendelik-gemaakte toebroodjies verslind. Maar, iewers in een Reitzman se gedagte reeds die plan om die volgende jaar Hobhuis se gees weer op te grawe. Dit is egter ‘n storie vir ‘n ander keer. ‘n Storie wat wel waar geword het. In 1971 is Hobhuis se “Gees” opgegrawe. Weer is ‘n kissie vooraf gemaak, maar met ‘n verskil. Iets wat verskriklik sleg geruik het is in die kissie geplaas. Met die graf oop is die kis onder groot belangstelling oopgemaak. Skok en ongeloof is aan die orde van die dag wanneer die slegte reuk vrygestel word.
Volgens oorlewering het Reitz daarna die Hobhuis-dames genooi om saam te verkeer – natuurlik met toebroodjies uit Hobhuis se kombuis. As ek nog reg onthou het die Hobhuis-meisies die Reitzmanne by Reitz ontmoet. Groot egter die ontnugtering, weer eens. Die dames word gekaap, met kettings geboei en moet na die Vrystaat-stadion stap waar hulle soos slawe opgeveil word. Moenie wonder wat van die keurig voorbereide toebroodjies geword het nie! Die Reitzmanne het heerlik daaraan gesmul. Die goeie nuus: Hobhuis se “Gees” het na dit alles opgestaan en vriendskapsbande tussen Hobhuis en Reitz is herstel.
Na bewering het ‘n soortgelyke voorval in 1978 gebeur toe Madelief se “Gees” ook deur Reitz begrawe is. Schalk Vermeulen het meer hieroor vertel.
Vanjaar het die spook van begrafnisse weer by Reitz Heimat ontwaak toe besluit is om Amelia se gees te begrawe. Soortgelyk aan die vorige begrafnisse het dit ook gepaard gegaan met ‘n vergadering, ‘n optog en laastens die begrafnis.