President Reitz Kamerwonings (RKW)
  • Home
  • REITZ
    • Kortliks oor Reitz
    • Reitz 65 / Heimat 5 : Reünie 2013
    • Reitz 2008 : Blouwillem
    • Reünie Foto's 2013
    • Foto's '59 tot '62
    • Foto's '76 tot '79 (1)
    • Foto's '76 tot '79 (2)
    • Foto's 80's (1)
    • Ererol
  • HEIMAT
    • Agtergrond
    • Aktiwiteite
    • Doen Aansoek
    • Rugby Kampioene! Beste Koshuis in SA
    • Heimat Jool 2014
    • Belangrike Nuus 2013
    • Heimat 5 : Reünie 2013
    • Foto's 1
    • Foto's 2
    • Foto's Jool 2013
    • Foto's Potch Julie 2013 HM
  • ROBBE
    • Teken in op Nuusbrief
    • Projekte
    • Beplande Mini - Reünie : George : Desember 2015
    • NUOR Komitee 2013 - 2018
    • NUOR Bydraes
    • Mini Reünie Maart 2014
    • Robbe Foto's
  • BESTUUR
  • REITZ BLOG
  • KONTAK ONS

President Reitz Heimat Reünie 2013

24/9/2013

 
Picture
                        Die President Reitz 65 / Heimat 5 Reünie

      Heimat Mannerheim, Bloemfontein:  23 tot 25 Augustus 2013

                                        Deur Dr. Robbie Dennis

 

President Reitz-Heimat het die afgelope naweek heerlik fees gevier.  Altesaam 182 Oud-Reitz- en Heimatmanne (sommige met hulle metgeselle vir ‘n totaal van 350 koppe) het gekom om Reitz 65 te herdenk.  Wat ‘n heerlike naweek was dit nie.  Om weer ou kennisse te sien. Om die jonger geslag Reitzmanne te leer ken en ook om weer die gees van President Reitz-kamerwonings in te adem. 

Die koshuis op die kampus lyk soos ‘n “Correctional Facility” met die staalheining wat om die geboue opgerig is. U is seker almal bewus dat Reitz onder die vaandel van die nuwe koshuis, Heimat Mannerheim, voortbestaan. Na die sluiting van Reitz middel 2008 is aan die werk gespring om ons tradisies te beskerm en ’n heenkome vir die manne te skep. Hierin het Dippies ’n groot aandeel gehad.

Die gees van Reitz lééf.  Die jong manne van die koshuis het hulle puik van hulle taak gekwyt om vir ons ‘n pragtige Reünie geleentheid te reël. Groot dank aan Dippies wat die siel en stuurman agter die reëlings was.

Registrasie het Vrydag vanaf  09:00 geskied. Danksy personeel van Dippies se praktyk, is dit baie professioneel gedoen. Altesaam 182 manne van oor die land heen het vir die Reünie geregistreer.  Die oudste manne wat die Reünie bygewoon het is Piet Nel van Bloemfontein (eerstejaar 1949 en Prime 1952) en Willem van Niekerk van Port Elizabeth (eerstejaar 1949 en HK-Poepketel sake 1952).

Die reünie is Vrydagoggend ingelui met ‘n besielende Teekanbiduur wat deur ds. Christo Louw, studente-leraar, gelei is.  Daarna was dit lekker gesels en kuier in die Bond en markiestent.  Om 13:00 is die rugbyspanne se truie uitgedeel.  Die voormalige rasieleiers, Piet Smith en Daan Smuts, asook oud- Sprinbokke Eben Jansen en Chris Badenhorst het die taak verrig.  Na die Bondfunksie is die manne getrakteer met ‘n fantastiese vleisbraai. Daar sal nog lank hieroor gepraat word.

Teen 17:00 is daar na Shimlapark beweeg waar die rugby plaasgevind het.  Drie van Reitz-Heimat  se spanne het teen Veritas gespeel.  Die derde span het ongelukkig 15 – 17 verloor, maar die tweede span, 57 – 5,  asook die eerste span,  36 – 24, het goeie en mooi rugby gespeel en het gewen.  Na die Rugby is teruggekeer na die koshuis vir die nabetragtingsbondfunksie.  Sommige manne het eers  Saterdagoggend 07:00 besluit om vir 'n uur te gaan rus voor die huisvergadering.

Die huisvergadering het Saterdag 12:00 begin. Ds Jan Pretorius (Prime 1980) het die vergadering met Skriflesing en gebed geopen.  Die huige Prime het die verwelkoming gedoen en 'n oomblik van “stille respek” is betoon vir Reitzers en Oud-Reitzers wat sedert die vorige reünie  heengegaan het.

Die voorsitter van die Nasionale Unie van Oud-Reitzmanne (NUOR), Dr. Robbie Dennis, het daarna die Stoel oorgeneem het sekere aspekte m.b.t. Reitz en Heimat in perspektief gestel deur kortliks na die geskiedenis van die koshuis van 1992 – 2013 te verwys. Die NUOR se finansiële posisie is ook bespreek, en daar is gewys op slegs enkele debietorders (± 12 maandeliks en ±15 jaarliks) wat nog steeds ‘n bydrae tot die NUOR-fonds maak. ‘n Voorstel uit die vergadering het versoek dat die bestuur ‘n daadwerklike poging sal aanwend om lede-bydraes weer op koers te kry.

Die voorsitter het aan die vergadering voorgehou dat twee artikels in die Grondwet van die NUOR aangepas moet word om;

(i)      die Oud-Heimat Mannerheim lede tot die NUOR toe te laat.

(ii)     vir nuwe Robbe streke 'n lid op die NUOR bestuur moontlik te maak.

Die veranderinge is eenparig deur die vergadering goedgekeur.

Die voorsitter het die vergadering meegedeel dat daar aktief begin gaan word  om 'n ontwikkelaar te vind om 'n private koshuis vir President Reitz-Heimat en President Reitz-Amelia buite die kampus te verwesenlik. Die voorsitter dien dan ook sy bedanking in met die oog daarop om hom voltyds aan die doelwit toe te wy.

‘n Nuwe bestuur vir die NUOR is verkies en vir die volgende vyf (5) jaar sal die ondergenoemde persone op die bestuur dien.

Voorsitter:                     Ronnie van Dyk      Bloemfontein

Onder-voorsitter:           Conrad Pienaar      Bloemfontein

Koshuisvader:                Christo Dippenaar   Bloemfontein

Wes-Kaap:                     Hennie Pienaar       Bellville

Gauteng en die Noorde:   Blouwillem Theron   Pretoria                  

Vrystaat en Noord-Kaap: Beukes van Zyl      Bloemfontein 

Suid- en Oos-Kaap:         JP (Janis) Kruger    George

Namibië:                        Jan (Stoop) van Greunen:  Swakopmund

Na die bestuursverkiesing het die verskillende oud-Primes die voorsitterstoel geneem en "Diepseun" gebeure, aangevul deur lede uit hulle jare, met die vergadering gedeel. Awie Nel (HK-Jool 1992) wat baie beswaard was omdat die President FW Reitz bronsbeeld nie te sien was nie, het 'n persoon uit die vergadering genomineer wat vir hom soos die "Ou President" lyk wat op die verhoog as die “President” moes poseer.  Chris du Randt, 'n huidige derdejaar in die koshuis, het hom goed van die taak gekwyt.  

Blouwillem moes weens ander verpligtinge Saterdagoggend vroeg vertrek en kon nie die huisvergadering bywoon nie.  Hy moes in opdrag van Tom Ferreira verneem of iemand nie dalk Tom se beker wat in 1971 verlore geraak het, gesien het nie. Aangesien almal hierdie verslag sal lees, het ek dit goed gedink om hierdie belangrike versoek in dié dokument te hanteer:

Tom Ferreira soek nog steeds sy beker wat in 1971 weggeraak het. Dit was ‘n roomkleurige bierbeker met inhoudsmaat 340 ml.  Die beker het naamlik, ‘n paar pink (bra indrukwekkende) kanne, met rooi kolle op, gehad wat op- en afgeswaai het wanneer ‘n mens die beker na jou lippe bring (wat hy dikwels gedoen het vanweë die voortslepende lus en dorstigheid).  Hy het die saak in 1971 by die polisie aangemeld, maar aangesien dit redelik onlangs was en ons nou eers by 2013 trek, kan mens seker nie verwag dat die polisie al in hierdie millennium op die misdaadtoneel gaan aankom nie.  Tom het reeds by die afgelope agt reünies die versoek gerig dat almal asseblief op die uitkyk vir sy beker moet wees.  Weens die vae beskrywing wat hy van die beker gegee het, het ek gaan “google” om ‘n goeie voorbeeld van die verlore beker beskikbaar te stel.  Ek het ‘n baie naby replika  gevind, maar dit is nie die ware-Jakop nie. 

Na die huisvergadering met volop kwinkslae (soos van ouds), is gereed gemaak vir die Formeel wat in die Joolsaal op die kampus plaasgevind het . Wat ‘n wonderlike aand van nostalgie en “onthou jy nog”. Die gaste is verwelkom met pragtige sang deur 'n kunstenaar, Elmie, waarna die formele sake afgehandel is.  Montello-Summerwood spyseniers het 'n smaaklike ete voorgesit en na die ete het die manne die koshuislied gesing.  Die lied is eers deur die vóór-1992- groep gesing en daarna deur die nuwe geslag Reitzmanne wat sedert 1997 'n verwerkte vorm van die lied sing.  Dit bly spesiaal en aangrypend om 'n klomp Reitzmanne die koshuislied te hoor sing.  Die aand was ‘n groot sukses en het baie aangenaam verloop.  Die manne het gekuier en gedans tot middernag.

Die Reünie is Sondagoggend afgesluit met 'n spesiale kerkdiens in die Universitas Gemeente en na tee en toebroodjies, wat die Koshuis Ma, Tannie Annetjie, voorberei het, het die manne in die pad geval huis toe.

Dok Robbie Dennis

Voorsitter: NUOR



Comments are closed.

    Author

    JP Kruger vir nuus oor Pres Reitz Kamerwonings en Heimat Mannerheim   

    Reitz Heimat Wapen
    Pres Reitz - Heimat

    Archives

    February 2017
    July 2016
    April 2016
    March 2016
    May 2015
    January 2015
    June 2014
    January 2014
    November 2013
    October 2013
    September 2013
    August 2013
    July 2013
    May 2013

    Categories

    All
    1959 1962
    1959 - 1962
    2013
    2013 Reünie
    2013 Reünie
    Amelia
    Gerrit V Wyk
    Heimat Mannerheim
    Huisvergadering
    Mini Reünie 2013 - 76
    Ode Aan Sonnekus En Buschy
    Pieter Odendaal
    President Reitz
    Pres Reitz
    Pres Reitz Kamerwonings
    Robbe
    Robbie Dennis
    Rugby
    Theunis Bekker
    Universiteit Vrystaat

    RSS Feed

Powered by Create your own unique website with customizable templates.