
Laat daardie marathon huisvergadering blog nou die memories loop!
In 1976 (my eerste jaar) word heelwat (soos gewoonlik) Reitz inwoners gekies vir ‘n SA rugbyspan wat in die VSA sou gaan toer. Ons was baie trots op die groot Reitz verteenwoordiging
Maar daar gaan verkies die bleddie Amerikaners vir Jimmy Carter as president. Eerste ding wat hy doen is om die SA rugbyspan se toer af te las. Om die minste te sê, ons was moerig!
Tydens ‘n huisvergadering word besluit om ons misnoeë aan die nuwe president duidelik uit te spel. Die brief moes in Engels wees, uit die aard van die saak – Paul de Jong was die naaste aan ‘n Engelssprekende inwoner in Reitz, en hy word getaak as skriba. Of hy alles wat Pres. Carter toegewens is presies en duidelik vertaal het, kan ek nie onthou nie, maar die brief is plegtig gepos.
‘n Week of wat later word daar kommer uitgespreek by ‘n huisvergadering dat Pres. Carter dalk sy moer kan strip, en soos dit maar gaan met die Amerikaners, mag hy dalk ‘n lugaanval loods op ons koshuis. Al die argitektuur studente is toe getaak om dadelik te begin met die ontwerp van bom skuilings… ek dink nie dis ooit gebou nie? Maar as ek reg onthou, het ons erkenning van ontvangs van die brief gekry!
So van argitekte gepraat. Die een bungalow, naby die gemeenskaplike badkamers, se vloervlak was laer as die straatvlak buite die bungalow. Een van die inwoners, mnr X, kla toe dat die fairies hom kan sien as hy privaat dingetjies doen in die stort, en hy dien ‘n voorstel in dat die HK dit moet oorweeg om ‘n ekstra gerief aan te bou.
Weereens het die argitekte aan die werk gespring. Nadat die bourekenaars egter die eerste beraming gedoen het, het dit duidelik geword dat ons moeilik die fondse sou kon bekom – watter bank sal nou ‘n lening toestaan vir so ‘n ‘handige’ gebou?
Na ‘n laaaang bespreking is daar besluit dat die mees ekonomiese oplossing sal wees dat mnr. X in die vervolg op sy knieë moet staan as hy privaat wil wees - gesekondeer en aanvaar
In 1976 het Reitz ook ‘n TV gekry. Die seniors het op die normale Gazellie stoele gesit. Eerstejaars mog net na Haas Das se Nuuskas kyk, en hulle moes op die vloer sit…. agter die seniors…
Die TV het ook sy nadele gehad, aldus Skammat Maree, 2e jaar mediese student. Hy het in die SA Mediese tydskrif (die Huisgenoot) gelees dat die TV se lig baie sleg vir jong mense se oë is. Hy dien toe ‘n voorstel in dat ons dit ernstig moet oorweeg om ‘n lig AGTER die TV te plaas ten einde die slegte uitwerking op ons jong oë te beperk. Dis hier waar een van die langste huisvergadering besprekings ooit begin het… Eerstens moes ons besluit op die kleur van die voorgestelde lig – en daar was BAIE verskillende voorstelle, maar op Skammat se aandrang, (weereens uit ‘n mediese ‘oogpunt’ beskou), word koraal grys aanvaar as die kleur vir die gloeilamp
En die vorm van die gloeilamp? Elkeen het ‘n ander vorm voorgestel, met handgebare en sketse. Ongelukkig kan ek nie gekose vorm verduidelik nie – niemand sal dit kan beskryf nie. Iets soos ‘n horisontale draai roomys met roomys aan beide kante? Dis my beste poging
Ten laaste moes ons besluit of dit ‘n indraai gloeilamp, of ‘n insteek gloeilamp gaan wees. Die oorweldigende meerderheid was ten gunste vir ‘n insteek gloeilamp, maar die enigste teologie student in die koshuis het sterk kapsie gemaak teen die geïmpliseerde suggestiewe aard van die insteek gloeilamp. Hy kon niks in die Bybel kry om sy standpunt te staaf nie, en die bespreking het heftig geraak… totdat Skammat na ongeveer 3 ure se bespreking, sy voorstel vir die lig agter die TV teruggetrek het…
Lekker memories!
Groete
Theunis Bekker