
Waarvoor die owerhede nie voorsiening gemaak het nie, was dat daar eintlik verwag is dat ons moes klasse bywoon en om dit te doen moes ons uit ons oppashok ontsnap. Dit is net daar waar die seniors ons voorgestaan het, want, alhoewel ons dit nie geweet het nie, was hulle verbied om ons terrein te betree. Buite hierdie beskermde gebied is ons (darem meestal net verbaal) karnuffel.
Op ‘n manier het ons die eerstejaar gemaak sonder enige groot ongevalle en in 1960 is ons na die een van die twee senior koshuise oorgeplaas is, nl Drostdy (Huis DF Malherbe) en die Vishuis. Wat die kriteria was, kan ek nie onthou nie, behalwe dat die Vishuismanne baie op sport ingestel was en pro-aktief goeie sportmanne probeer oorreed het om Vishuis toe te gaan. Twee bekendes is Gert Cilliers, Travers Jordaan en Tolletjie Botha, reeds oorlede. Ek kan ook dink aan Johan Aspeling, Dirk Hanekom en JC Greyling. Die meeste 1959 eerstejaars wat ek kan onthou, is egter Huis Malherbe toe. Gedurende ons eerstejaar in 1959 is die hondehokke gebou.
Dit beteken dat Reitz in 1960 nog steeds ‘n eerstejaarkoshuis was. Die tweedejaars wat in die twee senior koshuise beland het, is van voor af as groentjies beskou vir ‘n hele aantal weke, wat beeindig is met ‘n tekkieoond. Die tweedejaars moes die lengte van die gang in die Huis Malherbe anneks tussen seniors wat wydsbeen gestaan het, se bene deur kruip en elkeen het jou ‘n hou met ‘n tekkie op die regterboud, soos vooraf afgespreek, gegee. Jy het naderhand hardop gebid dat iemand jou tog asseblief op die linkerboud moet slaan. Toe was die ontgroeningsproses eers regtig verby en ons kon soos ware ingesoute Kovsies met die ou Menere handskud. In die Vishuis het dit rowwer gegaan met hulle nagtelike “PP parties” vir tweedejaars. (As jy nie weet waarvoor PP staan nie, moenie kommer nie, dit was maar net ‘n naam). Dit het later (1962) tot die sluiting van Vishuis gelei.
In 1961 is ek en my kamermaat en natuurlik ‘n klomp ander, wat in die Anneks van Huis Malherbe gebly het, oorgeplaas hondehokke toe. Ek kan nie onthou of ons vrywillig soontoe gegaan het en of ons moes gaan nie, maar die hondehokke was deel van Huis Malherbe en Reitz was nog steeds ‘n eerstejaarskoshuis. Daar was wel seniors in Reitz in ‘n toesighoudende hoedanigheid of as primarius. Sommige ouens wat in 1960 in die hondehokke koudgekry het, is weer oorgeplaas Anneks toe. Miskien was dit nou weer ons beurt om koud te kry.
In 1962 is 'n klomp van ons tesame met inkomende eerstejaars, teruggeplaas Reitz toe, met die doel om dit weer 'n volwaardige senior koshuis te maak. Vanaf 1962 is Reitz dus beslis deur seniors en eerstejaars bewoon en moet 1962 gesien word as die stigtingsdatum van die nuwe Reitz, die een wat nou die dag dalk vir oulaas toegemaak is. Die Anneks van Huis Malherbe, die een net onderkant die Vishuis, het in 1962 die anneks van die Vishuis geword, die jaar toe die Vishuis toegemaak is.
Vandag huisves die genoemde anneks die Skakelburo, maar hoe dit tussen 1962 en tot voor die vestiging van die Skakelburo aangewend is, is onseker.
Met hierdie agtergrond, is daar dalk iemand wat meer lig op die geskiedenis van Reitz en Malherbe kan werp?
https://sites.google.com/site/reitz59/inwoners-na-50-jaar/van-wyk-gerrit