
LEKKER IN DIE SUID - KAAP IN DESEMBER
Kort oorsig van die Robbe Suid-Kaap
Daar is 2013 nou ook in die verlede. Soos mis voor die môreson – ‘gone’.
Sy gat gesien. (Die taalpuriste sal wel weet dat dit nie vloek is nie, maar wel dui op die gat wat vir jou begrafnis gegrawe is).
Dit was egter, na my beskeie mening, ’n baie goeie jaar vir President Reitz - Kamerwonings, Heimat Mannerheim en die Robbe. (Reitz Old Boys wat die oud - Heimatmanne insluit).
Ek was bevoorreg om die reünie in Augustus 2013 te kon bywoon in Bloemfontein. Daar was nou nie miljoene van my jare nie, wat effe teleurstellend was. Wat wel na ’n uur of twee duidelik geword het, is dat jaarverskille vir Reitzmanne nie saak maak nie en almal het gou tuis gevoel. Dit was natuurlik ook te danke aan die Heimatmanne wat moeite gedoen om ons ouer garde te onthaal in die omgewing waar geen Bungalows was nie – ook nie Hondehokke waar baie van ons opgegroei het nie.
Na ’n toer deur die koshuis het ons wel besef dat dit nog maar steeds Reitz is. Die foto’s teen die mure en die ererol-borde het ons herinner aan wonderlike jare in dié besonderse koshuis van die UV. En meer nog, die gees van die Heimatmanne en die respek wat betoon was. So, vir my is dit maar eintlik net ’n nuwe heimat vir Reitz. Een ouman het aan my gesê dat as hy geweet het wat die situasie was, hy sy seun na Heimat en Kovsies sou stuur eerder as na Potch soos wat hy gedoen het. Vir my is dit dus maar President Reitz Heimat.
Tydens die huisvergadering het ek weer eens die gees en dissipline beleef wat ons gebrei het vir wat ons is en die suksesse wat daarop gevolg het - in ons eie lewens, in spanverband en in ons beroepe.
Ek woon in die fantastiese Tuinroete van ons land en meer spesifiek in George. Vir die afgelope 22 jaar al. Groot was my verbasing toe ek verneem hoeveel manne gedurende die feestyd hier kom uitspan. Vir jare al. Natuurlik sou ek hulle nie sien nie, want ons ‘locals’ lê maar laag in sekere tye van die jaar.
Gedurende die huisvergadering was dit dan ook besluit dat alle Heimatmanne ook op Robbe status kan staatmaak. Die land is dan ook in streke opgedeel om seker te maak die Robbe kom kwartaalliks bymekaar à la Hennie Pienaar van Bellville wat die byeenkomste gedurende 2006 suksesvol in die Kaap begin het. Blaai deur die webtuiste om Robbe byeenkomste en foto’s te sien.
Suid-Kaap
Ek was van plan om ’n Robbe-byeenkoms vir November 2013 te reël, maar die manne was vas met talle jaareindfunksies. ’n Klompie van die eerstejaars van 76 het reeds gedurende Junie besluit om 23 Desember in George bymekaar te kom. Ek het op die nippertjie besluit om te kyk of ons nie van die ander manne wat ook hier vakansie hou in die hande kon kry nie. Heelwat het gereageer, maar die datum het nie almal gepas nie. Ek was nietemin verras met die opkoms.
Ons het dit ’n middag - ding gemaak aangesien ’n paar manne 60 tot 70 km moes reis. En terug na hulle plekke ook natuurlik.
Frank Stenri, my Rooms van 79, het die Snoek al die pad van die Weskus gebring en vir ons gebraai. Almal het saamgestem dat dit van die beste ooit was wat hulle geëet het. Met patats en brood, natuurlik.
Die gades wat dit bygewoon het, het sommer gou gekliek en land-en-sand gesels en is met drukkies uitmekaar...
Almal was dit eens; dit moet ’n jaarlikse instelling word.
’n Groot dankie aan almal wat moeite gedoen het om die geselligheid by te woon. En spesiaal vir André Weideman wat vir die dag van die Kaap hierheen gevlieg het.
So manne, julle wat Desember 2014 hier kom uitrus, merk nou julle kalenders vir 26 / 27 Desember. Dan behoort ons almal te akkommodeer. Die ouens voor Kersfees en die daarna.
Groetnis hier uit George,
JP (Vir die wat my uit koshuisjare ken, Jahni of Janis).
Hou mikker (Pointer) oor foto's om name te sien In gewone volgorde - waar ek weet sit ek eerste jaar by. Kliek op foto om te vergroot.
Onthou julle kan kommentaar lewer op die pos - kliek net op comments onder die facebook teken en pos. Ek moet dit eers lees en goedkeur om goggas weg te hou.